Padreëls

Waarskuwingsvlae en Bestuur op Verdeelde Paaie

Waarskuwingsvlae / Weerkaatsers

Waar enige vrag meer as 150 millimeter na die kant, of meer as 300 millimeter na agter uitsteek, moet dit gemerk word deur middel van:

  • ’n rooi vlag of vlae (300 mm x 300 mm) bedags, en
  • terugkaatsers snags, of
  • enige ander tyd wanneer persone en voertuie nie duidelik sigbaar is weens ongunstige toestande nie. Wit terugkaatsers na voor en rooi terugkaatsers na agter.

Bestuur op ’n verdeelde openbare pad

Wanneer enige openbare pad in twee of meer rywee verdeel is, mag niemand ’n voertuig op sodanige openbare pad bestuur of ry nie behalwe op die linkerhandse ryweg, tensy hy of sy deur ’n toepaslike padverkeersteken of ’n verkeersbeampte aangesê of toegelaat word om ’n ander ryweg te gebruik.

Bestuur aan die linkerkant van die ryweg

Enige persoon wat ’n voertuig op ’n openbare pad bestuur, moet aan die linkerkant van die ryweg ry en, waar die ryweg breed genoeg is, op so ’n wyse dat hy of sy nie op daardie helfte van die ryweg aan sy of haar regterkant indring nie.

Met dien verstande dat sodanige indringing toelaatbaar is —

  • waar dit gedoen kan word sonder om ander verkeer te belemmer of in gevaar te stel, of
  • ter nakoming van ’n aanwysing van ’n verkeersbeampte of ’n padverkeersteken.

Wanneer jy bewus word van ander verkeer wat in dieselfde rigting beweeg en jou voertuig wil verbysteek —

  • ry so na as moontlik aan die linkerrand van die ryweg, sonder om jouself, ander verkeer of eiendom in gevaar te stel, en
  • moenie die spoed van jou voertuig verhoog voordat die ander voertuig verby is nie.

Wanneer jy op die punt is om aankomende verkeer te passeer, moet die bestuurder van ’n motorvoertuig verseker dat sy/haar voertuig nie op die ryweg aan sy/haar regterkant indring op so ’n wyse dat dit sodanige aankomende verkeer kan belemmer of in gevaar stel nie.

Die bestuurder van ’n voertuig wat van voorneme is om ’n stilstaande bus te passeer, moet dit doen met behoorlike sorg vir die veiligheid van persone wat die bus nader of verlaat, of dit mag nader of verlaat.